GKL Orrelkerk | Sondag 25 Julie 2021
Leraar | Jacob Pretorius
Tema | Veilig in chaos?
Teks | Genesis 7:16

CCLI Streaming License No..:553 147

Gesegde: The only safe passage is the one to the eternal Kingdom of God (Anon.)

Bemoediging
Die chaos wat deur die wettelose geplunder en geweld in ons land veroorsaak is, het my laat dink aan die chaos van die sondvloed. In die dae van Noag was “die aarde korrup in die oë van God, vol geweld. God het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot” (Gen. 6:11-12). Die gevolg was dat die water malend en kolkend weer die aarde “woes en leeg” gemaak het, soos voor die skepping toe die Gees van God oor die donker oerwater gesweef het (Gen. 1:1-2). Meer as enigiets anders, berus ʼn voorspoedige toekoms op die morele karakter van die aarde se bewoners. Ja, God hou die toekoms in sy hand, maar Hy dwing nie sy wil op mense af aan wie Hy die vryheid gegee het om te kies nie. Die afgelope twee weke het vir ons gewys hoe die keuses wat mense vir boosheid maak, hulle eie en ander mense se lewensruimte vernietig. Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as die plundering vinnig landswyd versprei het. Laasgenoemde het my laat dink aan wat Paulus profeteer in 2 Tessalonisense 2:7-8: “Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees, en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn.” Daar is tans nog kragte in Suid Afrika en wêreldwyd wat volslae wetteloosheid teëhou, maar dit gaan nie vir altyd so bly nie. Die Antichris wat hier die wettelose genoem word, sal sy mag bekom in ʼn situasie van totale wetteloosheid. Was die afgelope gebeure ʼn glimps van die wettelose se verskyning? Wetteloosheid, pandemies en natuurrampe herinner ons hoe onveilig ons lewens op aarde werklik is. Tog is daar hoop. God het die Ark agter Noag toegesluit (Genesis 7:16). God kan sy mense in chaos van alle kante omsluit en Hy doen dit ook (Psalm 139:5). Lees dalk eers die vrae hieronder en luister dan na die preek.

Gesels in Groepe

Oor “Vasgevang”
1. Hoe voel jy oor die onlangse gebeure in Suid Afrika? Het jy hoop?
2. Wat is die verband tussen die oerwaters voor die skepping en die water van die sondvloed?
3. Woed daar ʼn geestelike stryd agter die sigbare chaos op aarde? Hou die Satan se val, voor die skepping, verband met die aarde wat woes en leeg was en met die duisternis oor die oerwater?
4. Wat is die ergste situasie waarin ʼn mens vasgevang kan word (1 Pet 3:19)?

Oor “Verseël”
5. Wat beteken dit dat God die ark agter Noag toegesluit het (Gen. 7:16b)?
6. Hoe is dit moontlik dat God na Noag kyk en hom as regverdig sien (1 Pet 3:18, 21)?
7. Hoe hou die verhaal van die sondvloed verband met die doop (1 Pet 3:21).
8. Bespreek die stelling: “God verander die doodswater in doopwater”

Oor “Vorentoe vanuit rus”
9. Watter simboliek oor rus en Sabbat sien jy in Genesis 8:1-4?
10. Watter simboliek oor herskepping sien jy in Genesis 8:1-4?
11. Herskepping is ʼn proses. Watter twee sake in Genesis 8:1-4 illustreer laasgenoemde?
12. Waar begin herskepping? Hoe is jy prakties betrokke by herskepping (Rom. 12:21)?

There is a hope
Stuart Townend| Mark Edwards
Copyright 2007 Thankyou Music
(Admin. by Capitol CMG Publishing)

CCLI Streaming License No..:553 147